Aangesien die koekies ‘n Afrikaanse naam het, sal ek ook die resep in Afrikaans deel. Modderkoekies is so ‘n gepaste naam, maar mens kan kreatief raak met naam idees vir die oukies. My een vriendin noem hulle rotsies aangesien hulle soos rotsies lyk ook.

Hierdie is ‘n wonderlike resep wat mens saam kinders kan maak en morsig die soet van alles vreeslik baie kan geniet.

Jy benodig;

  • 1 koppie suiker
  • 1/2 koppie botter
  • 1/4 koppie water
  • 1/4 koppie kakao
  • 2 t vanilla
  • 1 koppie hawermout (rou)
  • 1 koppie klapper

Gebruik ‘n pot wat groot genoeg is sodat jy die hele mengsel in die pot kan maak en dan dus net een pot vuil maak.

Die volgende stappe is belangrik sodat die koekies nie te veel uit mekaar uit val nie en ook nie te loperig raak nie. Probeer dus om dit presies so reg te kry.

Meng die suiker, botter (gesny in blokkies), water & kakao en roer oor ‘n stadige hitte todat die suiker opgelos is en die botter gesmelt is. Verhoog dan die hitte en laat die mengsel kookpunt bereik. Kook vir 5 min tot dit begin borrel. Verwyder kakao mengsel van die hitte en voeg die vanilla by. Roer die hawermout en klapper by en skep lepelsvol in hopies op ‘n gesmeerde bakplaat of op bakpapier. Mengsel ‘set’ vinnig, m.a.w dit word vinnig hard, dus wees vinnig met hopies maak. Plaas in yskas, los in yskas of eet dadelik. 

Geniet!