Beskuit is altyd een van die dinge wat ek die heel meeste mis elke keer as ek in ‘n ander land kuier. Dis die beste en lekkerste ontdekking en sowaar iets wat jy in elke Suid Afrikaner se huis sal kry. Beskuit is perfek vir die dag wat jy haastig is en ook perfek vir die dag as jy nie haastig is nie.

Ek en my man is mal daaroor om op ‘n Sondag oggend lang ure te lê en gesels in die bed saam ‘n koppie koffie en natuurlik ook ‘n vars beskuitjie. Niks moeite gaan in daardie ontbyt nie en die kwaliteit tyd saam kan mens vir niks verruil nie.

My Ouma se ‘Kook en Geniet’

Intussen wil ek julle vertel van die ‘Kook en Geniet’ resepte boek in my kombuis wat vandag nog help om baie disse voor te berei. My ouma het destyds besluit dat sy haar ‘Kook en Geniet’ vir ‘n vriendin gaan gee. Die kosbaarheid van hierdie spesifieke boek is duidelik omdat sy die boek self ingekleur het met haar eie idees. Voor en agter en elke oop gaping is vol handgeskrewe resepte. Olie merke en opgevoude tydskrif-resepte lê ook tussen die blaaie. Resepte van haar haarkapper en haar beste vriendin is ook neergeskryf. Dis nie net ‘n normale ‘Kook en Geniet’ nie. Glad nie.

Tannie Lida het toe een van die mooiste besluite geneem en gekies om my te bederf met ‘n trou geskenk ‘n paar weke voor ons troudag. Sy gee toe vir my, my heel eerste asblik. Die asblik was bloedrooi, modern en presies wat ek wou gehad het vir ons nuwe huisie. Toe ek die asblik se deksel verwyder was die uwe en presiese boek daar en opreg eintlik die kern van die geskenk. Trane het gevloei van dankbaarheid en ek het my ouma ‘n paar dae voor my troue so baie gemis. Een ding weet ek wel baie goed; hierdie ‘Kook en Geniet’ sal nooit ooit beland in ‘n aktiewe asblik nie.

Hierdie resep wat ek nou met julle deel is die heel eerste resep wat sy neergeskryf het in die voorblad van die boek. Ek het die resep aangepas omdat ek neute en sade wou byvoeg. Dus is dit nou my ouma se semel beskuit met my mengselmoes bygevoeg.

Opreg haar handskrif en haar idees
Ongelooflik spesiaal – dankie tannie Lida

Mengel Semel beskuit

Dis werklik ‘n vinnige en maklike resep. Om alles te meng is vinnig klaar en dan kan jy toelaat dat die oond die werk vir jou doen.

Hierdie resep maak tussen 25 & 30 beskuitjies. Jy kan die resep presies verdubbel vir meer beskuit – presies verdubbel sal goed werk. Ek sal eerlik sê dat ek die resep halfveer het omdat ek duur botter wou spaar. Maak eerder minder maar moenie die kwaliteit van die botter ignoreer nie. Dis die kern van die smaakvolle beskuit.

  • Voorberei tyd – 10min
  • Bak – totaal 50 min
  • Laat uit droog 2 tot 3ure

Jy benodig;

  • 250g Botter
  • 250ml Kookwater
  • 125g Suiker
  • 500g Semel & Vesel meel (high bran flour – nutty wheat)
  • 250g Gemengde en gedroogde neute & hawermout (muesli van keuse)
  • 125g Gemengde sade
  • 15ml Bakpoeier
  • 5ml Sout
  • 5ml Koeksoda

Stappe so maklik soos volg;

  • Voorverhit die oond op 160’C
  • Smelt die botter met 125g (helfte) van die kookwater
  • Voeg die suiker en die res van die kookwater by sodra die botter gesmelt het
  • Meng goed sodat die suiker smelt
  • Meng die droë bestandele en voeg by die bottermengsel
  • Dit is nogals ‘n slap mengsel
  • Meng goed en skep in voorbereide pan
  • Bak vir 30 minute en verlaag hitte tot 140’C en bak vir nog 20 minute
  • Toets vir gaarheid en laat afkoel voordat jy dit sny in stukke
  • Laastens droog die beskuit uit op ‘n 50’C oond tot dat dit reg is om gedoop te kan word in ‘n vars koppie koffie

Geniet!